
In ons daaglikse lewe skuil ons so dikwels agter n masker. Hierdie maskers is nie die soort wat jy met n maskerade gaan opsit nie - Dit is bloot n mens wat jyself skep en waaragter jy skuil.
Ons neem van vroeg af alles wat ons hoor in, posetief sowel as negatief, en dan internaliseer ons mense se reaksie op ons aksies en ons weeg onsself daarteen op.
Omdat 80% van mense se terugvoer negatiewe terugvoer is, is dit geen wonder ons persepsie van onsself sluit dinge in soos: "Ek is dom", "Ek is lelik", "Ek is n mislukking".
Hoe dikwels dra gewone ordentlike, vredeliewende, beskaafde mense maskers - hulle ry die duurste motors, bly in die mooiste huise, het universiteitsgrade, verdien goeie salarisse.
Maar voorkoms is soms misleidend...
Want agter die masker van fatsoenlikheid, sukses en beskaafdheid, skuil daar leegheid, innerlike doodsheid, sluimer die vrees van: "Ek is nie goed genoeg nie"!
Wil mense hulself bloot emosioneel "beskerm" deur die dra van n masker? Ons leef immers in n stukkende wereld. n Wereld wat vuisvoos geraak het van emosionele slae en psigiese manipulasie. Wil mense van die trauma ontkom deur maskers te dra... of wil mense bloot net die gevoel van :"Ek is nie goed genoeg nie" wegsteek?
Wil hulle ten alle koste keer dat die wereld nie die rou seer moet raaksien nie... want in die oe van die wereld is jy mos n "swakkeling" as jy nie kan "cope" nie!...
En daarom laai ons deur die jare net meer bykomstighede by - dinge wat die maskers meer geloofwaardig moet maak... nog n graad, miskien n blinker motor of groter huis...
Maar uiteindelik word die maskers so swaar, ons kan dit nie meer dra nie!