Monday, April 6, 2009

Kommerkous?

Een van die mooiste stukkies prosa oor bekommernis is vir my die storie in Gerhard Beukes se boek Ek glo, waarin hy van sy filosoofvriend, Oom Hennie van die Noordweste, vertel.
Tydens een van hulle kuiertjies het Gerhard sy bekommernis oor die toekoms van ons land en sy mense uitgespreek.
"Wat is die sin daarvan" het hy vir oom Hennie gevra, "om vir more te werk en te beplan as vrees en dood more se verwagtinge vandag al vernietig?"
Wag tot dit reen voor jy jou jas aantrek, Boeta, was oom Hennie se antwoord. Die moeilikheid met jou is dat jy jou so baie oor die dag van more bekommer dat jy nie tyd en kragte oor het om vandag te doen wat vandag van jou verwag nie.
Ek is seker die goeie Skepper het nie bedoel dat ons ons moet bekommer hoe hy die wereld more en oormore gaan bestuur nie.
Die enigste wat Hy van ons verwag, is om vandag se werk so goed te verrig dat ons ons more nie hoef te kwel omdat ons dit nie beter gedoen het nie. Geen mens kan ooit al die ellendes van gister en van more saam met die van vandag dra nie.
Daarom maak ek met bekommernisse soos met my lammerooie; ek keer elke dag se nuwe aankomelinge in n aparte kampie af; almal op n bondel gaan hulle my onderkry, maar so klompies-klompies sien ek kans vir hulle!

Watter goue raad is dit nie! As ek en jy dit kan regkry om ons bekommernisse een op n slag te takel, sal ons - natuurlik met God se hulp - nie deur hulle ondergekry word nie.
Nog goeie raad vir kommerkouse soos ek kry ons in Filipense 4:6 "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en danksegging aan God bekend," skryf Paulus.
Maak vandag n lysie van al daardie sake wat jou so vol kommerplooie maak. Vertel vir God van elkeen van hulle. Deel jou begeertes met Hom. Hy het jou lief en wil graag elkeen van jou bekommernisse vir sy rekening neem!

Here,
ek is oor so baie dinge bekommerd
dat ek maar net my bekommernisse na U kan bring
en hulle daar by U kan los
Vergewe my dat ek so n kommerkous is
Ek is dikwels bekommerd oor dinge
wat nooit met my sal gebeur nie
Ek is so besig met die bekommery
dat ek nalaat om elke dag voluit te lewe
dankie vir die seker wete
dat omdat U my liefhet en vir my wil sorg
ek my nooit weer hoef te bekommer nie.
Amen

10 comments:

  1. Dis so baie waar dat kommer oor dinge wat nie as gevolg daarvan gaan verander nie, al mens se energie opgebruik. Hoe sal ons ooit die lesse regtig leer... Nims... ek is vreeslik bly dat die salaris storie ook uitsorteer het.

    ReplyDelete
  2. Hallo Nimsi,
    Ons moet net aan die Here vashou en al ons bekommernisse op hom werp. Dit is deels hoekom Hy die prys aan die kruis gedra het.
    Sterkte

    ReplyDelete
  3. Nimsi weet jy soms as ek hier land soos vanaand dan voel dit of jy die stukkie spesiaal vir my geskryf het.

    Ek het vanaand so hartseer oor my en ek weet op die aarde nie hoekom nie. Jy weet mos ons vrouens se koppe werk soms deurmekaar! Wel mens kan seker nie altyd lag en grappies maak nie nĂȘ?

    Dankie ek sal my kommernisse oorgee in Jesus se hande.
    Amen

    Mooi bly
    x x

    ReplyDelete
  4. Dis wyse raad verseker. Ons kommer nie net nie, ons probeer dit ook self oplos en dan kommer ons omdat ons nie kan nie - die beste oplossings het nog altyd gekom as ek dit in Vader se hande los.

    ReplyDelete
  5. Charmaine,
    Ja die salarisstorie het my n paar grys hare bygegee. En hierdie man se arrogansie oor die aangeleentheid het my n paar uur op my kniee gekos om vergifnis te smeek!

    ReplyDelete
  6. Hello Oom Petrus,
    Ai dis nog n sakie wat ek vreeslik mee sukkel hierdie!
    Dit gaan goed met Hugo, ek geniet hom vreeslik!
    Mooi bly en liefde daar!

    ReplyDelete
  7. Muriel,
    Die ou duiwel laat ons vroue so voel vriendin... want hy weet as ons so voel is ons huishoudings en verhouding met ons huismense ook onderstebo!
    Voor hierdie jaar se "krismis" kom moet ek en jy regtig n koffie op my balkonnetjie drink!
    Mooi dag vir jou!

    ReplyDelete
  8. Sandra
    Daardie self oplos is regtig in my lewe nog n GROOT stuikelblok.
    Lekker dag vir julle daar in die woestyn vriendin.

    ReplyDelete
  9. Agnes is baja bly dat die Miesies van wie Agnes hy baie hou 'n kjend van die groot Nkozi es. Agnes hy se hart seng.

    ReplyDelete
  10. Au Agnes, my hart ok hy seng nou by hierdie dag want jy het hierso by my gekom. Dankie ne en jy moet weer kom.
    Nimsi

    ReplyDelete