Thursday, January 29, 2009

Agt wen wenke

Soos n rekenaar geprogrammeer word deur die regte sleutels te druk, net so kan ons onself positief instel deur positiewe riglyne in ons lewe in te sleutel. Hoe meer ons hierdie "goeie sleutels" druk, hoe makliker sal dit wees om probleme te hanteer en soos oorwinnaars te lewe:

* Aanvaar ander mense en die lewe soos hulle is. Slegs wanneer jy mense met foute en al aanvaar, sal jy dit dalk kan regkry om hulle ten goede te beinvloed.
* Moenie ander vir jou probleme blameer nie. God werk met vergifnis maar die duiwel werk met skuld.
* Wees tevrede met wat jy het, en probeer dan om meer te kry - in plaas van om die volgorde om te keer. As jy gelukkig is met wat jy het, sal jy ook gelukkig wees met wat jy kry.
* Raak opgewonde oor die spel van die lewe. Geniet dit om geblok, gekeer en selfs getref te word - dit is alles deel van die spel. Leer om die spel te geniet, ook wanneer jy as die verloorder uit die stryd tree.
* Moenie meer probeer doen as wat jy kan nie.
* Moenie dat die verlede jou bly kelder nie. Vra God om jou vir jou sondes en foute van die verlede te vergewe; haal dan uit jou verlede net wat goed is, en vergeet die res.
* Bring jou onoplosbare probleme na God toe - en los hulle daar by hom. Hy kan die onmoontlike doen!
* Onthou die pretsleutel. Ons het almal rus nodig. Moenie skuldig voel as jy speel nie - geniet jou werk en jou aftye. Neem vakasie; kortes en langes.

Tuesday, January 27, 2009

Vriendskap


Die meeste van ons is geseen met baie vriende. Ons het egter meestal slegs n paar "hegte" lojale vriende. Hulle is soos soet parfuum: dit vervaag nie en bly in die lug hang!
Snaaks hoe sogenaamde vriende verdwyn die oomblik as dit met jou begin sleg gaan... jy hoor skielik vir maande niks van hulle nie; indien jy hulle wel aan die hande kry of raakloop is die antwoord gewoonlik: "ons is so besig"

Ek het n paar mense van alle ouderdomme gevra om hulle beste vriende te beskryf: Hulle beskrywings was soos volg:
Vriende is onder andere -
*liefdevol
*versorgend
*getrou
*eerlik
*empaties
*mededeelsaam
*ontvanklik
*betroubaar
*vrolik
*lojaal

n Paar vriendskappe vol omgee hou lewenslank, ons paaie vleg in-en-uitmekaar soos n tapisserie. Ander vriendskappe word onderbreek deur tyd en afstand, maar wanneer ons dit hervat, voel dit of ons net aangaan waar ons opgehou het...
Twee vriende wat werklik vir mekaar omgee, het n onuitwisbare invloed op mekaar. Deur die insette wat hulle lewer, vorm hulle mekaar. Ware vriende sien kans om mekaar tereg te wys as dit nodig sou wees...

Vroue kan nie sonder vriendinne klaarkom nie... Vrouevriendskappe is immers baie werd... of is dit? Vrouevriendskappe kan baie deurstaan, maar dit kan ook baie broos wees. Ons vroue hanteer meestal ons vriendskappe soos glas, maar dikwels bly net die skerwe van n vriendskap oor...
En na so n verwoeste vriendskap vra n mens jouself dikwels, was hierdie vriendskap n kosbare snoer perels of slegs n string goedkoop plastiekkrale?

Friday, January 23, 2009

Beloning aangebied


As enige persoon bereid is om hierdie sewe by my oor te vat -
Ek stuur die volgende saam met hulle...

* n Vol bak Ginno Ginelli roomys en sjokolade topping
* n Vol bak koekies
* n Groot kaaskoek
* Sjokolade - (pick n mix)

Kom nou meisies... hierdie is n heerlike beloning!

Wednesday, January 21, 2009

Verraai Jouself...

Raak my ou balkonnetjie toe mos gister te klein vir my en die twee potplantjies...

En besluit ek maar om te gaan winkels kyk en stap of eerder 'drentel' ek deur die plastiekwinkel - so n regte lekker rondsnuffel winkel hierdie -

By die ingang van die winkel, lui die man wat voor my loop se foon... soos n toilet wat spoel...

Net lekker aan die snuffel, gly n vrou op iets wat op die vloer le - verloor haar balans, maar slaag net betyds daarin om haar balans te herwin en nie te val nie. Toe sy weer vas op haar voete is, se sy net "Prys Die Here" en stap rustig verder.

So by die halfmerk van my snuffeltog laat val n man n meelblik - (so n regte outydse blik meelblik) se net "O F*K" en loop kwaad-kwaad verder...

In al drie hierdie gevalle het ek net n sekonde van insae gehad in hierdie persone se lewens...
Snaaks hoe min woorde n mens nodig het om n groot deel van jou binneste te verklap!

Monday, January 19, 2009

Doreen

Kom ek en Doreen al n pad saam, sy het my aangeneem as haar vertroueling toe ons saam in die stad gewoon het. Sy is na haar ouers se egskeiding deur die hof in haar pa se sorg geplaas en op die stadium toe ek in haar lewe gekom het, het haar pa deur n baie moeilike verhouding gegaan...
Gisteroggend laai pa haar by my woonstel in die nuwe dorp af met die boodskap - Praat met haar, of ek gaan myself vergeet en haar iets vreesliks aandoen!
Saam met hierdie 'opdrag' kry ek ook n lang lys van al haar foute, grille en 'geite'...

Doreen is nou vyftien, n bietjie oorgewig ( sy moet meeste van die tyd Mc Donalds eet want pa is of by sy vriendin - of te moeg om te kook) effe aan die slordige kant (die ma-hand kort) en baie baie deurmekaar...
Ek en Doreen praat toe...
Ek gesels graag met die jeug, hulle herinner my gedurig daaraan dat ek vroer 'ook maar nie geweet het nie'

Pa jy het in jou haastigheid toe jy Doreen kom haal het gevra ek moet jou sommer maar hier op my blog antwoord.
Hier is jou antwoord...

Ja, sy probeer om jou ouerlike gesag uit te daag, maar heimlik hoop en bid sy tog dat die mure van die fort sal bly staan!
Sy is inderdaad op hierdie stadium n voortdurende toets vir jou senuwees, maar tegelyk n opwindende toets vir jou menslikheid.
Ek verstaan dat sy soms uitputtend is, n beproewing self... maar dit my liewe vriend, mag jy vir niks ter wereld misloop nie!
Moet nooit vergeet dat sy bo alles MENS is nie!
Sy is hipersensitief oor waardes soos egtheid, regverdigheid en opregtheid!?
Een van haar groot probleme is dat sy moet leer om haar ordentlik en beskaafd te gedra... en dit terwyl baie min mense rondom haar n poging aanwend om dit self te doen!
Jy verwag van haar dat sy haar ten alle tye volwasse sal gedra, en dit terwyl AL DIE VOLWASSE PERSONE IN HAAR LEWE HULLE KINDERAGTIG GEDRA!

Nou is dit maar eenmaal so dat TWEE verkeerde houdings nooit n probleem oplos nie!
En daarom moet jy die ouer, die ryper en volwasse party, die leiding neem in die uitstryk van julle probleme.
Hou asseblief in gedagte dat sy op hierdie stadium van haar lewe, op soek is na n eie identiteit...
En al lyk sy vir jou op hierdie stadium na n driebeenpot op twee bene moet jy haar deur die stroomversnellings van haar tienerjare help... HIERDIE IS NIE ELKE TWEEDE VRIENDIN VAN JOU SE TAAK NIE! MAAR JOUNE!

As ek namens haar iets vir jou kon se; sou ek Thomas Hardy aanhaal;
i, a stranger and afraid
in a world i never made

Sunday, January 18, 2009

Liefde









Hierdie foto's is ontsettend mooi en het baie baie diep aan my menswees geraak!

Sy lewensmaat is beseer
Hy bring vir haar kos
Hy probeer haar gemaklik maak
Hy besef sy is dood
Hy bly by haar en ween...
Sy is weg

Friday, January 16, 2009

Gebed vir ons land

Hemelse Vader,
baie dankie vir die mooi land waarin ons mag woon,
U weet hoe baie probleme hier op die oomblik is
en dat die meeste mense van ons reenboogland ongelukkig is.
Tog weet ons dat daar tog n oplossing vir daardie probleme is
U is die enigste haalbare oplossing, Here.
Daarom vra ek dat U ons land en sy mense sal seen
dat ons weer na U sal terugkeer
dat ons berou sal toon vir al die verkeerde dinge waarmee ons besig is
dat ons tot U sal bid en weer U wil sal doen
sodat U uit die hemel sal luister, ons sonde sal vergewe
en ons land sal herstel.
Maak elke inwoner van ons land n nuwe mens -
iemand wat U dien en liefhet, vir ander mense omgee
en werklik n positiewe verskil wil maak
en begin asseblief by my Vader.
Gee dat ek gewillig sal wees om deur U verander te word
sodat ek al hoe meer soos Jesus sal word.
Amen

Wednesday, January 14, 2009

Laat die kindertjies na my toe kom...


Die TV program gisteraand oor "Baba Michael" het my tot in my diepste wese geskok en onstel!
As ek vanmore daaroor moes praat in plaas van skryf, sou ek nie n woord kon uitkry nie, so groot is die knop in my keel...

Drie maande oud gewees toe hy so erg mishandel is dat hy vir die res van sy lewe n invalide sal wees...
Mishandel deur die ouerhande wat hom moes versorg, vertroetel, beskerm...
In sy eie ouerhuis so wreed verniel, die huis waar hy moes veilig wees, waar hy versorg en gekoester moes wees!
EK MOES NOOIT HIERDIE PROGRAM GEKYK HET NIE!!

Die ergste was toe hulle die mamma wat gehelp het om hierdie ou seuntjie so te verniel, op die program bring met haar twee nuwe baba's... en tane in haar oe!
Vader vergewe my asseblief vir dit wat in my hart omgegaan het terwyl daardie vrou haar tranerige storie vertel het!


Toe hierdie baba die eerste keer in die hospitaal opgeneem en behandel is vir gesigbeserings het die dokter dadelik mishandeling vermoed en dit gerapporteer, die baba is egter weer aan die ouers terug gegee...
en nou versorg, voer, vertroetel en vertroos vreemde hande hom!

Miskien huil ek vanmore nie net oor klein Michael nie maar oor al die ander hulpelose kindertjies wat se swaarkry en seerkry onder die mat ingevee word en waarvan die wereld nooit eers hoor nie!
Miskien huil ek vanmore oor al die grootmense wat nog steeds worstel met hulle kinder seerkry.


Tuesday, January 13, 2009

The Invitation

Hierdie is seker een van die mooiste goed wat ek nog gelees het. En as ons werklik gaan stilsit, is dit wat ons van ander mense wil weet, tog nie of hulle "grand" is en groot karre ry nie...

(By Oriah Mountain Dreamer)

It doesn't interest me what you do for a living.
I want to know what you ache for, and if you dare to dream of meeting your heart's longing.
It doesn't interest me how old you are. I want to know if you will risk looking like a fool for love, for your dream, for the adventure of being alive.
It doesn't interest me what planets are squaring your moon. I want to know if you have touched the centre of your own sorrow, if you have been opened by life's betrayals or have become shiveled and closed from fear of furher pain!
I want to know if you can sit with pain, mine or your own, without moving to hide it, or fade it, or fix it.
I want to know if you can be with joy, mine or your own, if you can dance with wildness and let the ecstasy fill you to the tips of your fingers and toes without cautioning us to be careful, to be realistic, to remember the limitations of being human.
It doesn't interest me if the story you are telling me is true.
I want to know if you can dissapoint another to be true to yourself, if you can bear the accusation of betrayal and not betray your own soul; if you can be faithless and therefore trustworthy.
I want to know if you can see beauty even if it's not pretty, every day, and if you can source your own life from its presence.
I want to know if you can live with failure, yours and mine, and still stand on the edge of the lake and shout to the silver of the moon,"YES"
It doesn't interest me to know where you live or how much money you have.
I want to know if you can get up, after the night of grief and despair, weary and bruised to the bone, and do what needs to be done to feed the children.
It doesn't interest me who you know or how you came to be here. I want to know if you will stand in the center of the fire with me and not shrink back.
It doesn't interest me where, or what or with whom you have studied. I want to know what sustains you, from the inside, when all else falls away.
I want to know if you can be alone with yourself and if you truly like the compony you keep in the emty moments...

Monday, January 12, 2009

Lekker Verjaar ou maat...Lekker Verjaar



Veels Geluk Muriel (Wipneus) met die herdenking van jou geboortedag! Mag die nuwe lewensjaar vir jou waarlik net die mooi dinge uitdeel! Geniet die dag.



Onse Vader wat so wonderlik is, maak hierdie pragtige vrou so rustig soos U hart, bring vrede en vreugde oor haar, maak haar sterk en hou haar in die holte van U hand, druk haar vas teen U.
Laat daar druppels van geluk op haar velde neerdaal.
Sy is baie spesiaal!
Amen

Lekker verjaar ou maat... Lekker verjaar!

Thursday, January 8, 2009

Penvriende

As jong meisie al was ek baie lief vir skryf en het ek n goeie klompie penvriende gehad.
Laaang lekker geselsbriewe geskryf, sommige van daardie mense nooit persoonlik ontmoet nie, maar baie,baie goed geken...!

Ek het ook ver van my ouers gewoon - hulle in die karoo (Steynsburg) en ek in Secunda, en so het ek en my oorlede ma ook heerlik per brief gekuier - (het nou nog van haar briewe)
Kry ek vroer die week so n lekker lang geselsbrief van tweelingsus per e-pos... so n lekker brief dat ek dadelik weet wat in haar hart aangaan, hoe sy dink en voel!
En dit laat my toe dadelik wonder of mense nog per brief kommunikeer...?

Met die afgelope feestyd het ek talle sms'e ontvang... (24,25 en 31 Desember en 1 Januarie) het my foon behoorlik "gegons". Weer besef ek: Ons leef in n tyd van maklike kommunikasie.
Talle van die sms'e wat ons met sulke geleenthede vir mekaar stuur is baie oulike boodskappe, maar ons "forward" dit bloot vir mekaar, ons kom nie meer regtig in diepte by iemand uit nie. (weet iemand miskien wat het van kerskaartjies geword?)
Met die een mooi sms wat ek aanstuur, glo ek dat ek my verbintenis met die persoon bevestig het, maar hoor daardie persoon ooit nog enige iets uit jou hart uit.

Ons sms, e-pos, skype, noem maar op, maar weet ons nog regtig wat gaan aan in n ander persoon se gemoed, weet ons regtig nog wat leef in n ander persoon se hart?....

Wednesday, January 7, 2009

Onthou jy nog?

Lank, lank gelede, voor TV speletjies en dwelms...

Ek praat nou van die tyd van wegkruipertjie in die park of saans, van die kafee op die hoek, 'hop scotch' vir meisiekinners as dit 'alie' tyd is by die skool; touspring, klippie en 'handstands' donkie en krieket in die groot agtertuin.
Haas Das se nuuskas vroegaand, swem in die rivier, kamp op die strand, n swaai gemaak van tou en tamatiekasplankies vir sitplek aan die groot appelkoosboom, rugby op die oop stuk veld, tennis in die straat.

Die ruik van koekies wat bak uit die kombuis, gemmerbier in die spens, kougom vir n sent en roomys by die kombi met daai eentonige deuntjie.
Wag, wag kan jy nog onthou, toe om die hoek ver was, toe jy nog moes was en aantrek om saam te gaan dorp toe.
Honderde muskietbyte, stukkende kniee en repe vel afdop in die somer...
'Cowboys en kroeks' 'rounders' 'foefie slide' boomklim en modderkoekies bak

Skooltoe loop of fietsry ongeag die weer. Jaagtertjie speel tot jy op die gras neerslaan sonder asem. Lag tot jou maag pyn. Rondomtalie draai tot jy dronk dronk val. Moeg en vuil gespeel... onthou jy nog?

Waterbomme en kleilat was jou grootste wapens. n Stukkie karton in die speke het jou fiets laat sing...
Ek's nog nie klaar nie...
Kan jy nog proe en ruik, die droe jelliepoeier uit die pakkie, of droe milo vir sjokolade, yslollies in tupper houertjies gevries van aanmaakkoeldrank, jou eie suurpoeier gemaak van versiersuiker en eno's, borrels blaas met seepwater en n strooitjie, lang ure se kook aan 'kondensmelk' tot karamel, wilson en pienk toffies, taai malvalekkervissies en laaang stukke 'liquorish' of 'drop'

Dit was nie vreemd om 2 of 3 beste maats te he nie. Niemand het betaal vir n troeteldier nie. As jy gelukkig was het jy 50c vir sakgeld of die kermis gekry.
Almal se ma's was by die huis as die skool uitkom.
Die lekkerte van by die padkafee gaan eet-
Niemand het n wenkbrou gelig as enige ouer n kind berispe of in die werk steek nie
Almal op die werf is etenstyd kos gegee...
en toe ons nog bang was vir wat pa daarvan gaan se.

Onthou jy nog toe besluite geneem is met 'eeny-meeny-miney-mo'
Geldsake was net in monopoly
Die ergste wat jy van die 'ander' geslag kon kry was kieme
Gevang met n wapen by die skool was die BIC pen 'pea-shooter' waarmee jy die klasmaats probeer piets het, of dalkies n kettie op die speelgrond.

Verdowingsmiddels het beteken; melk van megnesia of lewensessens.
Roomys was kos en moed is ontdek as iemand jou 'dare'
Ouer broers was die grootste boelies maar ook die beste beskermers!

As jy die meeste van die dinge onthou, dan het jy G E L E W E

Monday, January 5, 2009

God se wonders

2008 was vir ons n MONSTER van n jaar! Ons het omtrent alles verloor! ons het vyf keer verhuis, ons motor het drie keer gebreek. Hier teen Desember was ons regtig MOEG, VUISVOOS EN VOETSEER!
Met groot verwagting het ons uitgesien na 2009...
Die eerste dag van die nuwe jaar begin toe al klaar sleg...
oppad huistoe van Oom Petrus en skoonsus af, na n geseende oujaarsnag diens en n heerlike nuwejaarsdag, raak ons kar aan die brand (nie vlamme, die drade het begin brand en rook) terwyl ons ry...

Gelukkig vir ons is skoonsus altyd meer as bereid om haar Tazz motortjie aan ons af te staan elke keer wanneer die oom se FORD besluit dit is nou sulke tyd... op n stadium toe ons nog in oom petus hulle se tuisdorp gebly het, het die mense gedink sy leen ons kar en nie ons haar kar nie!
En so bring sy maar toe weer Saterdag oggend die ou Tazz karretjie... en is skoonsus werklik in my lewe vir my een van God se wonders!

Ek slaap die laaste ruk vreeslik sleg en spandeer baie nagte op my ou balkonnetjie... so sit ek laasnag en blaai deur n hopie ou koerante wat ek nog bymekaargemaak het vir ons treke en kom ek op n Burger van 23Januarie 2007 af...

Daarin is n plakaat van die planete in ons sonnestelsel, asook een van die heelal. Toe ek die statestieke by hierdie twee plakate lees, het my verstand weer - soos gewoonlik wanneer ek met die feite van die hemelruim gekonfronteer word - gaan stilstaan. Ons sonnestelsel is gelee in die Melkweg wat uit sowat 100 miljard sterre bestaan= (100*1000 000 000). Hierdie melkweg is 10 000 ligjaar in deursnee! Die snelheid van lig is sowat 300 000 kilometer per sekonde.
Dit is eenvoudig menslik onmoontlik om die omvang van die heelal te visualiseer. HOE GROOT IS DIE GOD NIE WAT DIT ALLES GEMAAK HET EN ELKE DAG IN SY HAND HOU NIE!

Nie net het God die onmeetlike hemelruim geskep nie, maar hier op die wereld waarop ons woon het Hy ook verskillende dinge geskep wat so hemelsbreed van mekaar verskil dat hulle my net meer van sy grootheid bewus maak.
Hy het reusebergreekse gevorm, maar ook fyn skulpies en blommetjies wat so klein is dat ons hulle skaars met die blote oog kan sien en tog is elkeen van die klein skeppingswonders met groot presisie volmaak gemaak!
Ek het laasnag weer besef, ek mag nooit aan God se wonders gewoond raak nie! Ek mag nooit vergeet dat God besig is om met my te kommunikeer deur elke klein wonderwerkie wat hy in my lewe doen nie, deur elke opregte mens wat hy oor my lewenspad stuur nie!
Ek het laasnag weer besef dat ek nie langer mag vaskyk teen die oneerlike hartelose mense wat sonder skuldgevoelens van jou af wegloop en nooit weer dink aan jou wat sonder niks agterbly nie, wat nooit eers wonder hoe swaar die opstaan pad dalk vir jou is nie!
Ek moet dankbaar wees vir die wonders van God wat by my kom en se: ek deel dit wat ek het graag en in liefde met jou, want ek wil nie he dat jy moet swaarkry nie. Ek gee nie om vir n bietjie ongerief nie want dit is vir my belangrik dat dit met jou ook goed gaan!

Meer nog, dat die groot God wat die ontelbare planete en sterre, asook elke ding in die skepping gemaak het, vir my, totaal onbenullige mens, so liefhet dat Hy sy Seun stuur om in my plek te sterf!
Ek gaan my beslis daarop toele om fyner te kyk en op te let na die verskeidenheid wonders om my!

VADER-GOD,
DAAR IS NIE GENOEG WOORDE IN DIE WERELD OM
TE GEBRUIK OM MY LOF EN EER AAN U TE BRING NIE
U IS WAARLIK ONBESKRYFLIK GROOT!
AMEN

Friday, January 2, 2009

n Nuwe Jaar

(Pslm 90:14-15)

In Pslm 90 peins Moses oor die feit dat mense vergangklik en nietig is, maar God ewig is.
n Mens is soos gras wat in die more nog groen is wanneer dit afgesny word, maar teen die aand is dit verlep en verdroog. Hierteenoor staan God in sy almag. Vir Hom is duisend jaar soos n enkele wagbeurt in die nag. En hierdie almagtige God gee om vir elke klein nietige mensekind. Hy kom bied ons elke nuwe jaar, elke nuwe dag, sy liefde in oorvloed aan, sodat ons, ons lewe lank mag juig en bly wees oor so n God.

Ons lewe hier op aarde bestaan uit n aaneenstrengeling van dae en jare, en elke nuwe jaar, elke nuwe dag is n nuwe begin, n geskenk uit God se hand. Elke nuwe jaar is vol unieke geleenthede, nuwe uitdagings en nuwe eise. Elke nuwe jaar is God se kinders verseker van sy liefde en trou. God gee ons n nuwe kans, n kans om verkeerdhede reg te stel, om te werk aan ons verhoudings, om probleme die hoof te bied.
Elke nuwe jaar kom bied God ons ook sy genade opnuut aan - en Hy belowe om ons sonde te vergewe as ons dit voor Hom bely.

As alles om jou in 2008 donker gelyk het, mag jy moed skep. Hierdie is n nuwe jaar. Hierdie jaar kan jy met God se krag weer nuut begin, en jou van voor af beroep op sy liefde en genade. Wanneer dit saans donker word, mag jy seker weet dat die lig van n nuwe dag weer na die donker sal kom. Daarom hoef jy nie moedeloos te word as dit vir jou in 2008 gevoel het asof God ver was nie. Jy mag soos die pslmdigter bly glo dat Hy jou swaarkrydae sal vervang met jare van blydskap.
Daarom kan jy en ek saam met die pslmdigter bid: Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe!

My nuwejaars gebed aan al die familie, vriende en blogvriende:
Mag 2009 waarlik geseend en vol liefde wees!

Hemelse Vader,
baie dankie vir die geskenk van n nuwe jaar
Dankie vir die vooreg om seker te kan weet u genade is my elke more van hierdie nuwe jaar nuut.
Gee vir ons asseblief vanjaar U liefde in oorvloed. Ek bid dat ons ook hierdie jaar U goedheid sal belewe.
Amen